Bassin d'Arcachon

Die Bassin d'Arcachon (in Gaskoniese Oksitaans: la Laca d'Arcaishon) is 'n uitgestrekte baai en soutwatermeer in die département Gironde (région Akwitanië), tussen die stad La Teste de Buch in die suide, Lège-Cap-Ferret in die noorde en die Atlantiese Oseaan in die weste. Die binnesee aan die sogenaamde Silwerkus van die département Landes, wat na die dorp Arcachon vernoem is, strek tydens vloedgetye oor sowat 155 en tydens eb oor 40 vierkante kilometer se water en sandbanke.

Die Bassin d'Arcachon maak deel uit van die landskap Pays de Buch en lê in die hartland van die Landes de Gascogne, halfpad tussen Grave-punt en Capbreton. Die baai is gevorm soos 'n driehoek en word van 80 kilometer se strande en beboste duine omring.

Die vaargeule van die Bassin d'Arcachon
Sogenaamde cabanes tchanquées (vissershutte wat op houtpilare in die water opgerig is) in die Bassin d'Arcachon

In teenstelling met die groot mere van Landes (Hourtin, Lacanau, Cazaux en Parentis) het die Bassin 'n groot regstreekse verbinding met die Golf van Gascogne, en groot watermassa's vloei daagliks die baai binne. Die Bassin word gedeeltelik deur 'n landtong - die skiereiland van Lège-Cap Ferret met die Cap Ferret, die Duin van Pyla en die natuurbewaringsgebied van Banc d'Arguin - van die oseaan afgesny. Die verbinding met die Atlantiese Oseaan is 'n korridor van sowat drie kilometer met talle sandbanke. Enkele vaargeule maak die Bassin ook toeganklik vir skepe en bote.

Die vaargeule en sandbanke is gaandeweg deur die oseaan se invloed en seestrominge gevorm. Elke dag word sowat 370 miljoen kubieke meter seewater teen 'n gemiddelde snelheid van sowat twee meter per sekonde tussen die oseaan en die Bassin heen en weer beweeg. Die water vervoer ook sand, wat teen die walle van die vaargeule afgeset word. Sodoende word sowat 600 000 kubieke meter sand per jaar beweeg.

Hierdie natuurverskynsels hou veral vir die skeepvaart gevare in, en selfs ervare seemanne word gereeld die slagoffers van ongelukke in die gebied. Die lokalisasie en struktuur van die vaargeule volg oor 'n tydperk van sowat 80 jaar 'n sikliese ontwikkeling. Die vaargeule word voortdurend in suidelike rigting verskuif. Dié wat in die uiterste noordelike kant lê begin gewoonlik vergroot sodra 'n nuwe vaargeul in die noorde gevorm word, terwyl die mees suidelike geleë vaargeule verdwyn wanneer hulle die suidelike kant van die Bassin bereik het.

In die sentrum van die Bassin lê die Île aux oiseaux ("Voëleiland"), en hier vind 'n mens ook die kenmerkende cabanes tchanquées - twee vissershutte wat op houtpilare in die water opgerig is.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy